top of page
Marieke Wiggett

Vyftig wedstryde in die sakkie vir Catelyn

 Tekkies skuur op die netbalbaan, die bal beweeg blitsvinnig tussen die netbalmeisies deur en in ’n oogwink beland dit in die hande van Catelyne Nelson, een van die vernuftigste netbalspelers op die baan.


Vroeg in die 2024-netbalseisoen het Catelyne (gr. 12), die kaptein van Helpmekaar Kollege se eerste netbalspan, haar vyftigste wedstryd vir dié span gespeel. Vir haar was dit ’n oomblik om te koester en veral bittersoet omdat dit haar laaste jaar in Helpmekaar is.


Sy sê harde werk was die hoofrede vir haar sukses. Volgens die eerste span se afrigter, Me. Liezel Bach, was Catelyne “die speler wat die momentum van die wedstryd vir ons kon draai om die oorhand te kry.”


Vir Catelyne is die reis na sukses belangriker as die sukses self. Haar grootste motivering is om haar verbetering dag ná dag te sien. Dit was moeilik omdat netbal baie van haar tyd in beslag neem, maar “hoe jy daar uitkom, maak van jou ’n sterker mens,” sê Catelyn.


Haar rolmodel is die Jamaikaanse netbalspeler Shamera Sterling. Sy het die selfdissipline waarna Catelyn streef en gee nooit op nie. Catelyne se raad aan jong netbalspelers is om “nooit op te hou werk vir wat jy wil bereik nie. Moet nooit ophou fight nie, want jy moet deur die moeilike tye kom om ’n sterker mens te word.”


Volgens Me. Bach is Catelyne “die hardste speler op die baan met die sagste hart”. Van die baan af, sê Catelyne, het sy ‘n borrelende persoonlikheid. Haar vriende en familie is vir haar baie belangrik en is haar grootste ondersteuners wat haar opbou om beter te wees.


Catelyne volg al haar netbaldrome vandat sy ses jaar oud is. Sy gaan volgende jaar Sportwetenskappe by die Universiteit Stellenbosch studeer en wil graag aanhou netbal speel.

            

Related Posts

See All

Comentarios


bottom of page