Elzette Labuschagne gesels met Afrikaansonderwyser en ʼn besonderse individu wat ʼn passie vir Afrikaans en die kultuur het – me. Linda Peacock. Sy het ʼn diep begrip van die unieke uitdagings en vreugde, wat met taalonderrig gepaard gaan en vir haar is elke dag Moedertaaldag.
Me. Linda Peacock wat betekend is vir haar pittige taalgebruik, glo dat Afrikaans sonder spreekwoorde en gesegdes, soos ʼn braai sonder braaivleis is.
Wat het juffrou geïnspireer om ʼn Afrikaansonderwyser te word?
Die liefde vir mense en om ontwikkeling en groei te sien in die studente. Om te sien hoe hulle vorder en daardie progressie te sien in hulle lewe, óf as ʼn skrywer óf as ʼn leser, is ʼn merkwaardige belewenis as ʼn onderwyser.
Hoe belangrik is moedertaalonderrig?
Deur moedertaal onderrig, word taal- en kultuurdiversiteit uitgelig. Hierdie onderrig is ook belangrik vir kognitiewe ontwikkeling. Dit is belangrik om trots te kweek in Afrikaanssprekendes, sodat hulle deel kan wees van ʼn jong, dinamiese taal, wat aanhou groei.
Op watter maniere dink juffrou kan die viering van Afrikaans help om linguistiese diversiteit in opvoedkundige omgewings te bevorder?
Musiekfeeste is goeie geleenthede om diversiteit te bevorder, maar veral by Helpmekaar, is kultuuraande baie belangrik in die bevordering van hierdie diversiteit, soos byvoorbeeld nuwe toneelstukke wat opgevoer word.
Hoe moedig juffrou studente aan om hul moedertale te omhels en trots daarop te wees in die klaskameromgewing?
Om ʼn omgewing te skep waar leerders gemaklik voel om te groei en te ontwikkel in hul taalvaardighede, is baie belangrik om hulle trots te laat voel op hul taal.
Wat is juffrou se gunsteling-Afrikaanse idioom?
My gunstelingidioom is natuurlik, "tyd het kort bene." Dit beteken dat tyd kosbaar is.
Is dit nog belangrik dat leerders Afrikaanse spreekwoorde en gesegdes ken?
Dit is beslis belangrik, want dit is deel van ons taal. Afrikaans sonder hierdie spreekwoorde en gesegdes, is soos ʼn braai sonder braaivleis. Hierdie spreekwoorde is die kern van die Afrikaanse taal en daarsonder, kan ʼn taal nie groei nie.
Hoekom is dit belangrik vir leerders om op ʼn daaglikse basis hulle moedertaal te ondersteun en te bevorder?
Julle generasie is die generasie wat die taal bou en ontwikkel. ʼn Taal is lewendig en verander aanhoudend, en aangesien Afrikaans nog ʼn relatiewe jong taal is, is dit afhanklik van ʼn generasie soos julle om dit te laat groei.
Wat het juffrou se liefde vir die Afrikaans aangespoor?
My liefde vir lees het my liefde vir die taal gekweek, want hoe meer mens lees, hoe meer kom ‘n mens agter hoe ryk jou taal is.
Wie is juffrou se gunsteling-Afrikaanse digter en watter betekenis dra sy/haar werk vir jou?
Breyten Breytenbach, want hy het die mooiste liefdesgedigte geskryf onder baie moeilike omstandighede toe hy in die tronk was tydens die Apartheidsjare. Sy werk dra baie betekenis vir my aangesien hy fokus op ʼn beter wêreld.
Wat is juffrou se gunsteling-Afrikaanse woord en hoekom?
My gunstelingwoord is "voluit", want dit beteken dat wanneer jy voluit doen en dink dan doen jy altyd jou bes.
Comments