top of page
Daniël Basson

Vaping: Wat jy moet weet


Navorsing toon dat die toenemende gebruik van vapes is besig om ʼn epidemie van nikotienverslawing onder tieners te veroorsaak en is gekoppel aan verskeie longsiektes. Die Amerikaanse Kankergemeenskap beskryf ‘n vape as ʼn toestel wat ʼn vloeistof verhit na aërosol (damp), wat dan ingeasem word, asook dat hierdie toestelle gewoonlik nikotien, ʼn hoogsverslawende dwelm, bevat wat ook teenwoordig is in sigarette, sigare en ander tabakprodukte.


ʼn Gevallestudie deur die Universiteit van Kaapstad het bevind dat naby aan 20% van hoërskoolleerders vape as gevolg van verskeie redes, naamlik stresverligting, moegheid en toeganklikheid. Hierdie getalle gaan waarskynlik oor die volgende paar jaar toeneem, wat ʼn groot gevaar vir tieners inhou.


Dr. Marisna Venter, ʼn nood-GP by Mediclinic verduidelik dat verskeie mense vaping verkeerdelik as “veiliger” ag as om sigarette te rook. Vapes bevat duisende skadelike chemikalieë soos swaarmetale en bensaldehied, wat longselle beskadig en ander respiratoriese funksies aantas wanneer dit ingeasem word.


In sy mediese studie het dr. David Prudovsky beskryf hoe vapes verskeie organiese verbindings en aërosoldeeltjies bevat, wat nie deur die asemhalingstelsel afgebreek kan word nie, wat lei tot kroniese hoes en ander asemhalingsprobleme soos brongitis.


Dr. Joanna Cohen, PhD, beskryf hoe die nikotien in vapes breinontwikkeling en -funksie kan beskadig. Verder beskryf sy hoe die geurchemikalieë in vapes duidelike skadelike nagevolge het, hoewel daar min navorsing al gedoen is.

Vaping beïnvloed nie net gebruikers nie, maar kan ook tweedehandse blootstelling tot gevolg hê. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGOO verduidelik hoe die dampe wat deur vapes gemaak word, die konsentrasie van nikotien en ander chemikalieë in die omliggende area verhoog, wat tot risiko’s vir nie-gebruikers in die omgewing lei.


Die verskeie wanpersepsies oor vapes lei tot die wanindruk dat dit veilig en “gesonder” is. Die bemarking van vapingprodukte beklemtoon dikwels dat dit 'n gesonder alternatief vir rook is, wat bydra tot die wanpersepsie dat dit veilig is.

Comments


bottom of page