top of page
Leah Vivier

Studentelewe pas oud-Helpie soos ʼn handskoen

Nina Germishuysen (hoofdogter, 2022) gesels met Leah Vivier oor haar studentelewe ná haar epiese reis by die Bruin Reus.


Nina is gemaklik in haar vel en op 20-jarige ouderdom het sy reeds ʼn goeie idee van wie en wat sy is. “Ek is ʼn alleenloper en verkies dit om nie altyd tussen mense te wees nie, maar ek geniet wel ʼn lekker kuier elke nou en dan! Ek luister eerder as wat ek praat en is ietwat van ʼn introvert. Nie ʼn frilletjie- en valletjies-mens nie. Tipiese tweede kind, wat alles half in my stride vat. Ek is lief vir die Here - ek kry my energie in die buitelig... in Sy natuurskoon.”

 

Sy swot tans B-Rekeningkunde by die Universiteit van Stellenbosch, met die oog op ʼn beroep as geoktrooieerde rekenmeester. Sy glo dat ‘n internskap by Deloitte in Kaapstad haar ʼn voet in die deur sal gee. Nina geniet die studentelewe baie. “Die vryheid is heerlik. Jy is 100% verantwoordelik vir jou tyd. Jy’s skielik ʼn klein grootmens.” Maar sy verlang tóg soms huis toe. Sy vind troos in die wete dat haar broer, Nikolas net om die draai van haar is, want, sê sy: “Aangesien ons ouers ver is, kan ons twee saam verlang!”

 

Haar verlange terug huis toe, sluit ook haar hoërskooljare in, en sy nostalgies oor pawiljoen-kuiers, bus ry, saam stres oor toetse, atletiekbyeenkomste, geesvang, die Golden Boys en Time-out, raak. Sy glo dat Helpmekaar haar baie goed voorberei het vir die lewe na skool: tydbestuur, streshantering en kritiese denke is deel van haar DNS danksy Helpmekaar. “Ek het gedink klasdraf, lesings of assesserings, in Engels, gaan moeilik wees, maar Helpmekaar het ons goed hierop voorberei. Wanneer ek eendag die wêreld invaar, gaan dit baie help!”

 

Sy geniet beslis die studentelewe en het ook al ʼn paar lesse geleer vertel sy. “Dat ʼn mens nie op kitskos kan lewe nie, jou wasgoed nie vanself skoon kom nie, laat nagte jou inhaal, daar ongelooflike slim mense daar buite is, my ouers eintlik weet waarvan hulle praat en dat vriendinne soos familie kan wees. O ja – en dat B-Rek nie grappies is nie!”

 

Haar raad aan matrieks “Geniet elke oomblik van jou laaste skooljaar. Jy sal nie glo hoe jy dit mis nie. En al voel jy oorweldig, is dit eintlik jou laaste jaar van kind-wees.”

Related Posts

See All

Comments


bottom of page