Marlise Janse van Rensburg (gr. 11)
Foto: Verskaf
Musiek was nog altyd deel van Helpmekaar Kollege se hartklop. Of dit nou die koor se pragtige harmonie of die orkes se towerklanke is, Helpmekaar-leerders is nooit skaam om met hul musiektalente te pronk nie.
Een van Helpmekaar se orkeslede, Marlise Janse van Rensburg (gr. 11) bespeel die klankryke harp. Marlise is een van die min mense wat braaf genoeg is om so ’n moeilike instrument te bemeester en vertel aan die Helpie-Flitse meer oor haar drome.
Hoe lank bespeel jy al die harp?
Dit voel soos gister wat ek besluit het om die harp as my instrument te kies, maar ek speel nou al tien jaar lank.
Hoekom het jy spesifiek die harp as jou instrument gekies?
My tannie en haar dogter het my met hulle talente vir die harp geïnspireer. As ek reg onthou, het ek net besluit om dit te probeer en hier sit ek tien jaar later!
Wat is jou gunstelingstuk wat op die harp uitgevoer word en wat is jou gunstelingstuk om self te speel?
My gunstelingstuk op die harp is “Toto Africa” deur Amy Turk, want wanneer ek na die stuk luister, kan ek regtig waardeer hoeveel werk daarin gesit is. My gunstelingstuk om te speel is “Chanson dans la Nuit” deur Carlos Salzedo. Dit is asof elke noot wat ek speel my dieper in ’n droom-wêreld in vat. Dit is so maklik om myself in die musiek in te leef met hierdie spesifieke stuk.
Hoe help musiek jou in jou lewe en het dit ’n groot impak op jou lewe? As dit het, hoe?
In skoolverband het musiek my baie gehelp met my leerwerk, omdat musiek jou forseer om aan te hou en jou ook leer om vir langer tye te konsentreer. In my persoonlike lewe skep musiek vir my ’n uitweg. Dit bring ook baie tevredenheid as mens uiteindelik ’n stuk reg speel.
Wat is jou huidige en jou einddoel met jou musiek?
Soos wat ek ouer word, skeep ek soms my instrument af en ek oefen definitief nie so baie soos wat ek moet nie. Ek wil eintlik net sien hoe ver ek kan kom as ek regtig my volle passie vir die harp uitleef en al my tyd en liefde daarin uitstort.
Wat is die beste herinnering wat jy van of met musiek het?
Musiek is een van daardie dinge wat mens nie nodig het om aan ander te verduidelik nie. Elke keer wanneer ek speel of saam met die orkes optree, kry ek daardie hoendervleis-gevoel wat van elke oomblik wat ek musiek speel ’n goeie herinnering maak.
Hoekom het jy ’n Instagram-blad begin en wat wil jy daarmee bereik?
Die Instagram-blad gee vir my ’n bietjie meer motivering om te oefen en ek wil ook my vordering dophou om meer effektiewe doelwitte vir die toekoms te kan stel.
Het jy ’n musikale familie?
Nes ek, bespeel my tannie en haar dogter albei die harp, maar ook klavier. My ander niggie bespeel ook die harp en sy sing. My ma het ook op ’n stadium klavierlesse geneem en kan steeds baie goed speel.
Helpmekaar se leerders kry die geleentheid om hulle musikaliteit uit te leef en elke instrument en talent word verwelkom. Of jy nou uitblink met die klavier of soos Marlise spog met die harp, musiek gee kleur aan die lewe.
Comments