top of page
Anika Nel

Klets met Carla Klingbiel, kultuuronderhoofdogter

Helpmekaar spog elke jaar met pligsgetroue, hardwerkende hoofleiers wat definitief as voorbeeld vir die res van die skool dien. Anika Nel gesels met Carla Klingbiel, kultuuronderhoofdogter van 2024, oor al die pret en verantwoordelikhede wat diè titel behels.

 

Wat beteken die rol van kultuuronderhoofdogter vir jou?

Om te kan help om kultuur by die skool te laat groei en om te sien hoe die skool ontwikkel. Dit is ‘n verantwoordelikheid, maar dit is ook ‘n voorreg en dit is vir my baie belangrik, want ek was nog altyd ‘n besige persoon wat alles gedoen het; spraakgilde, redaksie, fotografie, tienertoneel, koor, om net ‘n paar te noem; en dit het my help ontwikkel. Ek dink as ons daardie kultuurtradisies sterk kan hou, voel ek het ek my werk gedoen.

As jy een nuwe kulturele tradisie of gebeurtenis by die skool kon bekendstel, wat sou dit wees en hoekom?

Eerstens probeer ek ‘n aand vir kuns reël, dit gaan heel waarskynlik tydens die Arte Della Musica wees, waar ons ‘n kunsuitstalling probeer inwerk. Die doel is om vir die ‘stiller’ kuns ook ‘n geleentheid gee om te praat met die gehoor. Ek wil ook ‘n tradisie begin waar die samewerking van verskillende vorme van kuns uitgebeeld kan word. Vir my is die mees spesiale vorm van kultuur wanneer ‘n stuk musiek byvoorbeeld versterk word deur digkuns, dans, ligte en fotografie en in ‘n storie verander word. Ek sou graag kultuuraande met temas wou hê om te sien waarheen dit almal lei in hulle kreatiewe denke.

As jy met enige kunstenaar kon saamwerk vir 'n skoolgeleentheid, wie sou dit wees en hoekom?

Hans Zimmer – ek is mal oor sy musiek; ek luister daarna terwyl ek leer. Hy het hierdie verskriklike sterk beelde waarmee hy werk. Nie een van sy filmkomposisies is ooit dieselfde nie. Hy help om die storie te vertel en dit is vir my amper die belangrikste deel. Ek sal baie graag wil sien wat hy bv. kan doen met ons skoollied, ek dink dit kan baie interessant wees.  

Hoe balanseer jy akademie met jou verpligtinge van onderhoofdogter?

Almal is besig en ek dink nie my pligte maak my besiger as ander nie. Jy maak tyd vir wat belangrik is vir jou en die kultuur by die skool is vir my baie belangrik. Dit is belangrik om jou eie balans en tydsbeplanning te skep. Onthou, vyf minute is baie werd, benut dit goed.

 

Is daar baie ‘agter-die-skerms’ werk wat die hoofleiers doen waarvan die res van die skool nie van weet nie?

Daar is definitief baie administrasie wat agter die skerms gebeur, maar as ek jou daarvan moet vertel, sou ek jou mond moes toeplak. Dit is vir my lekker, want ‘agter- die-skerms’ beteken nie dat dit minder belangrik of minder werd is nie, jy gee net die geleentheid vir ander om te skyn in die kollig.

Is daar sekere kultuuraktiwiteite wat jy wens meer erkenning gekry het of waarvan meer mense geweet het?

Daar is nie kultuuraktiwiteite wat glad nie erkenning kry nie. Ek dink ons skool kry dit goed reg om almal hulle plekkie in die son te gun. Ek sal wel eerder aktiwiteite op nuwe plekke wil gebruik. Kultuur gaan nie net oor een optrede ‘n jaar nie, dit moet deel van die skool se alledaagse kultuur en tradisie wees. Ek sal graag kultuur wil integreer en kombineer soos byvoorbeeld ‘n musiekoptrede by die rugby tydens halftyd of fotografie en toesprake by kultuuraande. Dit moet nie gaan oor ons individuele aktiwiteite nie, maar eerder hoe ons alles kan saam sit om die ‘magic’ daarvan uit te beeld.

Het jy ‘n nalatenskap wat jy wil los en hoe wil jy onthou word?

Ek wil hê die skool moet onthou dat ek passievol was, oor Jesus veral, maar ook my vriende, familie en natuurlik die skool saam met elke liewe, dalk een te veel, aktiwiteit wat ek gedoen het en al die geleenthede wat Helpmekaar vir my gegun het. Ek wil hê ‘n graad 8 moet raaksien dat ek iemand was wat geleer en gegroei het en dat ek net myself was. Ek dink as hulle ‘n stukkie van dit en ‘n stukkie van Jesus in my kon raaksien, is dit genoeg nalatenskap vir my.

Related Posts

See All

Comentarios


bottom of page