top of page
Anika Nel

Kiekies laat die hartsnare roer



Kiekies, Lucas se liedjies is beslis ʼn produksie wat nie vinnig vergeet sal word nie.


Thean Kotzé en Jannie du Toit het kragte saamgesnoer in ʼn vertoning wat die beste van Lucas Maré se musiek insluit, terwyl daar ook insig oor Lucas se lewe gegee. Die vertoning bevat musiek wat jou beide hartseer en gelukkig sal maak, en selfs op plekke sal laat skaterlag. Tussendeur die liedjies word stories van Lucas se lewe vertel wat ʼn mens die konteks van die pragtige lirieke beter laat verstaan, en jou dit nóg meer laat waardeer.


Lucas se liedjies handel oor verhoudings, geloof en sommer net die lewe. Die unieke klanke wat geskep word deur gebruik te maak van slegs twee kitare, saam met Maree se uitsonderlike lirieke, is genoeg om vir mens hoendervleis te gee.


In vandag se tyd is dit soms moeilik om werklike goeie Afrikaanse musiek te vind, maar hierdie vertoning is die perfekte geleentheid om te bewys dat Afrikaners óók musiek kan maak, en in die proses mense bymekaar kan bring.


As jy dié vertoning misgeloop het, kan jy Maree se musiek op Spotify ontdek.

Comments


bottom of page