top of page
Leah Vivier

‘Jou onderwysers was ook jonk en cool’

’n Onderwyser se lewe draai nie net om leerders nie. Leah Vivier het uitgevind wie Mnr. Phillip Kemp buite die klaskamer is.


Hoe lank is Meneer al in die onderwys?

Hierdie is my negende jaar. Ek het in 2016 begin.


Watter belangstellings leef Meneer by Helpmekaar uit?

Afgesien van die feit dat ek vakke onderrig waarin ek belang stel, is ek ook baie lief vir sport. Ek rig rugby en krieket af by die skool.


Buite die Geografie- of Lewenswetenskappe-klaskamer, verskyn Meneer soms in die kollig met ’n mikrofoon. Waar kom dié liefde vir musiek vandaan?

My ouma het opera gesing en my ma het koor en sang in die kerk gedoen toe ek grootgeword het. Ek was ook my hele hoërskoolloopbaan in die koor, maar my liefde daarvoor het eers behoorlik begin floreer toe ek op universiteit begin sêr [kompeterende groepsang sonder klavierbegeleiding] doen het. Dit is die lekkerste en coolste sang ooit.


Was onderwys Meneer se eerste beroepskeuse?

Nee, ek wou eers Argitektuur studeer, maar ek het nie keuring gekry nie, want my wiskundepunt was nie goed nie. Ek is ook op die ou end bly dat ek dit nie geswot het nie, want ek het later agtergekom dit het baie minder met IGO en baie meer met kuns en kultuur te doen. Ek het toe besluit om iets in die Natuurwetenskappe te swot aangesien dit my passie en belangstelling is (my idee van reekse kyk, is natuur-dokkies). Ek het B.Sc. Geografie en Dierkunde studeer op die PUK [nou die Noordwes-Universiteit]. Ek het toe in my vierde jaar ’n Nagraadse Onderwyssertifikaat gedoen.


As Meneer vir een dag enige personeellid in die skool kon wees, wie sou dit wees en hoekom?

Ek dink ek sou Mnr. Stoffel wou wees vir een dag. Ek dink maar net eenvoudig dit moet lekker wees ... Maar net vir een dag!


Watter vraag sou Meneer meer gereeld gevra wou word?

Meneer, kan ek asseblief my huiswerkboek in my tas gaan haal sodat ek net hierdie huiswerk kan neerskryf?


As Meneer ’n uitstappie met ’n rolmodel kon reël, wat sou julle doen?

Ek sal die Amasone in Suid-Amerika of die Okovango-delta in suidelike Afrika wil besoek saam met Sir David Attenborough en ’n BBC Earth-filmspan.


As Meneer tyd kon laat stilstaan vir ’n dag, watter drie goed sou jy doen?

Ek sou dalk ’n paar goed gehad het wat ek sou doen as ek tyd kon terugdraai ... Maar as ek tyd kon laat stilstaan – nie regtig veel nie. Dalk net ’n bank beroof of iets. Ek is tog ’n onderwyser!


Waarmee sal Meneer die volgende sin voltooi? Die mooiste mooi vir my is ...

... ’n sonsondergang in die Oos-Vrystaatse platteland terwyl die stilte so verdowend is dat dit jou tien keer harder laat dink.


Wat laat Meneer giggel?

As ek en Mnr. Dewald saam na snaakse video’s kyk – Instagram-reels van mense wat val.


Wat is die vreemdste of snaakste ding wat al in Meneer se klaskamer gebeur het?

In 2016 en 2017 (die eerste twee jare as onderwyser by Helpmekaar) was my klaskamer letterlik Mnr. Wayne se kantoor – die kantoor reg oorkant Mnr. Eugene se kantoor. Die Matriekmeisies se badkamer sit reg teenaan hierdie klas, en in daardie jare was daar nog ’n ruit bo, in die muur tussen my klas en die badkamer. Wel, kom ek sê maar net daar is besluit om die ruit eerder toe te bou ná my leerders ’n paar keer tydens ’n les aangedring het dat ons die klas moet ontruim vir ’n paar minute sodat ons almal ‘net ’n bietjie vars lug’ kon skep!


Wat is die belangrikste les wat Meneer op skool geleer het? Is dit iets wat Meneer nog toepas?

Jou onderwysers, mentors en ouers was ook 16 en 18 jaar oud op ’n tyd. Hulle was ook cool en sportief en deel van die young club voor jou. Luister meer na hulle. Die raad wat hulle gee, is omdat hulle ondervinding het. Hulle wil regtig nie net altyd jou fun spoil nie!

Related Posts

See All

Commentaires


bottom of page