top of page
Elzette Labuschagne

Jong entrepeneur skep met krale

Daar is geen twyfel dat Vanessa Langford (gr. 9) die leuse van haar besigheid, “jy droom dit, ons maak dit’’ uitleef nie. Met haar kleurvolle kreatiwiteit en sprankelende entoesiasme, stel sy beslis nie teleur as dit by haar besigheid kom nie. Harde werk, sweet en trane word in Yolo Bead ingestort, maar weet ons regtig wat die visie van hierdie entrepreneur is?


Wanneer het jy jou besigheid begin en wie het jou geïnspireer om dit te stig? Mojo-Beads, ʼn Londense juweelbesigheid, het my geïnspireer om my besigheid te begin. Ongelukkig is hulle produkte nie in Suid-Afrika beskikbaar nie. Ek vra myself toe af: “Hoekom kan ek nie ʼn soortgelyke besigheid hier begin nie?” So is Yolo Bead op 27 Augustus 2021 gestig.


Hoe vind jy, as bedrywige Helpie, ʼn balans tussen jou besigheid en jou skoolwerk? Skoolwerk bly altyd my eerste prioriteit en daarom probeer ek om my bestellings oor naweke te voltooi. Wanneer ek vasbrand daarmee, beplan ek my week vooruit en werk ek daaraan tydens my studiebreke.


Wat is uniek aan Yolo Bead en wat skei dit van ander besighede in dieselfde kategorie?

Wat my besigheid uniek maak is die feit dat jy jou bestelling kan verpersoonlik volgens jou unieke styl en persoonlikheid. My produkte is trots Afrikaans, nes ek. Dit is ook oorspronklik. Dit kan nie net in enige winkel gekoop word nie.


Het jy al ooit ʼn kliënt van die hand gewys? Ek sal nooit ʼn kliënt wegwys nie. Niks maak my gelukkiger as die glimlag op iemand se gesig nadat hulle ʼn bestelling ontvang het nie. Ek is so lief vir my kliënte dat ek al persoonlik ʼn pakkie in George gaan aflaai het!


Wie of wat is jou steunpilaar in moeilike tye? My ouers se ondersteuning en omgee motiveer my om aan te hou. God maak my ook sterk en hou my optimisties. Ek dank God elke dag vir die wonderlike talente wat Hy vir my gegee het.


Wat is jou verantwoordelikhede as die eienaar van ʼn suksesvolle besigheid? My grootste verantwoordelikheid as eienaar is om goeie gehalte produkte aan my kliënte te voorsien en natuurlik om kop te hou met die jongste neigings wat mense volg.


Watter raad kan jy aan iemand gee wat hulle eie besigheid wil begin? Eerstens is dit belangrik om uithouvermoë te hê, aan te hou wanneer mense hulle rûe op jou draai en om in jouself te glo. Tweedens, onthou dat jy ʼn mens is en dat jy soms foute sal maak. Solank jy net uit daardie foute leer, jouself weer optel en vorentoe beweeg, sal jy suksesvol kan wees.


Comments


bottom of page