top of page
Elzette Labuschagne

‘It’s Dior, Darling’: Verbeeldingskrag kenmerk glansaand

Elzette Labuschagne



Vanjaar se modeparade, met die tema “It’s Dior, Darling”, was ’n ervaring waar styl, innovering en glans saamgesmelt het tot ’n betowering vir die oë.

 

Die 450 gaste is by ʼn geheime bestemming met ’n glasie sjampanje onder die sterre verwelkom. ’n Pad wat aan weerskante deur lanterns verlig is, het na die lokaal gelei. Kandelare wat van die bome gehang het, het vir die perfekte foto-oomblik gesorg.

 

Die aand is geopen met ’n video oor die geskiedenis van mode en style en uitrustings deur die bekende Suid-Afrikaanse ontwerper Anel Botha. Christin Chemaly (gr.12) was geklee in ’n swart en silwer rok van maasstof (mesh), bedek met diamante en stene, met ’n lyfpak onderaan. ’n St. Bernard het haar vergesel. Who let the dogs out? – of hoe?



Kara Lubbe (gr. 11)

Lizan Zondagh Couture het die sofistikasie van die 1950’s-styl ten toon gestel. Jocelyn Straker (Joss) het haar ontwerptalent vir bruidsdrag én aanddrag gewys. Kara Lubbe (gr. 11) het Exodus Factory se lyn afskop met ’n asemrowende blou vere-uitrusting. Verskeie ander ontwerpers en handelsname het hul kledingstukke deur die loop van die aand vertoon. Dit sluit in New Romantics Couture, #iwant, Nadia May, 39 Dresses, Isabella Snyman, Silver Sparrow Designs, Grace and Light en Juan William Aria.



 

Die tafels was net so uitgevat soos die modelle – met swart glinsterende tafeldoeke en goue kandelare. Die outydse musiek het tot die romantiese, luukse gevoel van die aand bygedra. TV-skerms op die rame van die loopplank het dit meer gemaklik gemaak vir die toeskouers om die ontwerpers se name te sien. Is daar enigiets waaraan die organiseerders nie gedink het nie?

 


Me. Jana Theron

Me. Jana Theron het as seremoniemeester opgetree en het die gehoor met haar kommentaar oor die modewêreld en die uitrustings vermaak. Die aand sou ook nie ’n sukses gewees het sonder die fynbeplande driegangmaaltyd deur Helpmekaar se meerstersjef, Mnr. Chris van Niekerk, nie. Agter die skerms het 89 kelners hard gewerk om te verseker dat elke gas bedien word. Daar was ook dressers wat seker gemaak het dat elke rok net reg val voordat die modelle op die loopplank verskyn.

 

Onder leiding van die bekwame Me. Arliene van Wyk en Me. Linda van Niekerk, en met die hulp van gewillige ouers en personeel, was hierdie gebeurtenis weereens

’n sukses. Die 1950’s was dalk die era van ongeëwenaarde mode, maar dié modeparade het alles – van die grasieuse tot die verbeeldingryke –

gehad.


Related Posts

See All

Comments


bottom of page