top of page
Lienke Olivier

Helpie-koshuis nie net ʼn blyplek ʼn ware huis

In ʼn dikwels vergete, maar bedrywige gebou aan die voet van die Bruin Reus bly ʼn klompie koshuisbrakke wat sterker as Chuck Norris is, taaier as ʼn ratel is en meer deursettingsvermoë het as Suid-Afrikaners tydens beurtkrag. Kaela de Wet (gr. 9) gee ons ʼn kykie van wie die koshuiskinders werklik is en wat die koshuislewe spesiaal maak.


Hoekom het jy en jou ouers besluit dat jy na Helpmekaar toe kom en in die koshuis bly eerder as om bus te ry of om nader aan jou huis skool te gaan?

Soos baie ander Helpies, bly ek ver, daarom ry ek nie bus nie. Ek was net lus vir iets anders en ʼn lekker, nuwe avontuur en om ander mense te ontmoet, daarom is Helpmekaar nou my huis.

 

Hoe verskil die koshuis se kos van die kos wat jy gewoonlik by die huis sou eet?

Ek het ʼn baie kontroversiële antwoord, maar vir my is die koshuiskos baie dieselfde is my ma se kos. So dit laat definitief die koshuis bietjie meer na my huis voel.



As jy die koshuisreëls kon opstel, watter reëls sou jy verander?

Ek sou nie juis ander reëls opstel nie. Ek sou ons net meer vryheid gee.


Watter tradisies is daar in die koshuis?

Daar is ʼn klompie tradisies, soos bv. in graad 8 het jy ʼn matriekbuddy, wie se kamer jy moet skoonmaak; as iemand verjaar sing die hele koshuis vir hulle en daar is ʼn matriektuin…


Dink jy dis meer voordelig om in koshuis te bly of om bus te ry en hoekom?

Ek dink dit is meer voordelig om in die koshuis te bly, want as jy ver bly moet jy vroeg opstaan om op die bus te klim en boonop vat die busse ook nog ʼn ewigheid om by die skool te kom en jy kom eers laat by die huis, daarteenoor as jy in die koshuis bly het jy baie meer tyd, dis stiller en jy is omring met mense met soortgelyke waardes en opinies as jy het.


Wat is die mees onverwagte ding wat jy oor jouself geleer het vandat jy in die koshuis bly?

Dat ek goed kan doen in akademie, want my tydsbestuur is baie meer gestruktureerd, ek het ook ʼn plek gevind waar ek sommer net myself kan wees en ek het geleer om myself te aanvaar vir wie ek is. Ek het ook geleer hoe om nederig te bly.


Wat dink jy is die mees onderskatte aspek van die koshuislewe?

Almal dink altyd dat dit heeltyd pret is, maar dit is nie. Dis tough, jy moet kan aanpas. Mense onderskat ook hoe sterk ons geestelik is – ons is nie net ʼn klompie kinders wat ver van die huis af bly nie, daar is meer fasette aan ʼn koshuislewe.


Hoe het die ervaring om in die koshuis te woon jou ontwikkel?

Die koshuis en al die ander koshuiskinders het my beslis gevorm in die mens wat ek is. Die koshuis het my geleer hoe om met ander saam te leef. Dit het my respek vir my medemens geleer. Dit het my ook geleer dat daar nie ʼn kortpaaie in die lewe is nie. Soms moet jy dinge maar net op die harde manier doen.

 

As jy die koshuis as ʼn flimgenre moes beskou, wat sou dit wees en waarom?

Beslis ʼn komedie. Die koshuis maak plek vir baie lag en verskeie geleenthede vir inside jokes en ervarings waaroor ons nog vir baie jare sal lag. As ons ʼn realiteitsprogram moes hê oor die koshuis, sou mense hulle doodlag vir al die verspottighede.

 

As die koshuis ʼn temalied moes hê, wat sou die refrein wees?

Ons is braaf, ons is dapper, ons is nie soos die ander nie…

Related Posts

See All

Comments


bottom of page