top of page
Marieke Wiggett

Gold Reef City: Die Goudstad se glimlag

Daar is ’n klomp kosbaarhede in die Goudstad se skatkis, maar Gold Reef City is sekerlik een van die blinkstes.


Dié pretpark skep ’n wêreld waarin avontuur en geskiedenis hand aan hand loop. Die ontdekking van goud aan die Witwatersrand in 1886 het gelei tot ’n goudstormloop en baie myne is opgerig – soos die Crown Mines waarop Gold Reef City vandag staan.


Besienswaardighede soos die noukeurig-herskepte geboue, strate en mynskagte voer besoekers terug in tyd na die goue era van Johannesburg. Dit skep die geleentheid vir mense om die lewe en kultuur van mynwerkers beter te verstaan asook om meer oor Johannesburg se goudgeskiedenis uit te vind.


Hoewel Gold Reef City ’n plek vol geskiedenis is, is dit nie net ’n oorblyfsel van die verlede nie. Daar is ’n verskeidenheid moderne vermaak vir besoekers van alle ouderdomme – soos interessante vertonings, restaurante, winkels en selfs ’n casino.

Maar wat is ’n pretpark sonder sy ritte? Gold Reef City spog met meer as 30 rollercoasters, waterritte en swaaie wat jou asem sal wegslaan.


Die gewildste rit – die gevaarlike groen Anaconda – staan reg om jou blitsvinnig deur die lug te swiep en jou aan die gil te laat gaan. As jy dit waag om die Tower of Terror aan te pak, sal jy voel hoe jou maag in jou keel kom sit terwyl jy teen ’n spoed van 100km/h in ’n oop mynskag induik. As adrenalien nie jou ding is nie, kan jy Johannesburg vanaf die bopunt van die Giant Wheel bekyk.


Of jy nou ’n geskiedenis-entoesias of adrenalienjaer is of net soek na ’n opwindende dag saam met vriende, het dié park baie om aan te bied.


Gold Reef City is Woensdae tot Sondae van 09:00 tot 17:00 oop. (Kyk op die webwerf vir vakansietye.) Kaartjies, wat aanlyn bespreek moet word, kos van R265 tot R355 per persoon.

Related Posts

See All

Yorumlar


bottom of page