Dié prentjiemooi dorpie, geleë in Mpumalanga, is waar die heerlikste forel gevang kan word onder ‘n grasgroen boom en warm kolletjie in die son.
Vir ma en sus is die hele hoofstraat van Dullstroom vol oulike snuffelwinkeltjies, met kerse, kussings, konfyt en soveel meer. Dullstroom is in 1884 deur president Paul Kruger geproklameer en van toe af is hierdie dorp bekend vir sy besondere natuurskoon. Die bekende Dullstroom Inn is ’n kerndeel van die dorp, weens hulle bekende forelpastei, wat mens langs ‘n kaggel, wat al vir langer as 35 jaar brand, kan geniet.
My gunstelingdeel van “Dullies” is die sjokoladefabriek – ’n bietjie hemel op aarde. Alle kleure, soorte en geure sjokolade is daar in een plek beskikbaar. Die sogenaamde “Choc Shot” is die warmste en soetste smaak op jou tong en laat jou mond water net om daaraan te dink. Die lewe in die dorp begin al vroegoggend waar staproetes vir alle ouderdomme beskikbaar is. Tot laat in die aand word daar heerlik by restaurante gekuier wat billike pryse bied.
Daar is woonplek wat topgehalte diens lewer en mens kry die plaaslike ervaring in jou self-akkommodasie plaashuis, waar daar boerbokke soms in jou erf verbyloop.
Moenie die kans mis om 'n wegbreeknaweek in die lieflike Dullstroom te neem nie? Dit is ook nie te ver vir Gautengers nie.
Comments