top of page
Ewan Basson

Carmen Sanchéz: Ons eie profesora van formaat



Die Spaanse kultuur is divers, kompleks en fassinerend. Dit het ʼn ryk geskiedenis van kuns, kultuur en tradisies. Spanje het ʼn fantastiese klimaat, aanloklike natuur en ʼn gevarieerde en gesonde leefstyl. Spanjaarde is van nature vrygewig, gelukkig en mense wat weet hoe om genot uit enige situasie te put.

Me. Carmen Sanchéz is die hartklop van die Spaanse kultuur by Helpmekaar Kollege. Sanchéz vertel hoe elke dag ʼn nuwe ervaring vir haar is en glo dit is ʼn “voorreg om ʼn kultuur met ander perspektiewe met passie, emosie en vrymoedigheid aan studente oor te dra”.


Sy vertel dat sy Helpmekaar Kollege vir die eerste keer besoek het as IEB-moderator vir matriektoesprake. “Dit was anders as enige ander skool,” sê Sanchéz. “Die hoof het elke kind by naam geken, die atmosfeer was kalm en vriendelik.” Sanchéz vertel dat sy die eerste geleentheid aangegryp het om by Helpmekaar te kom werk.

“Ons was nooit tuis nie, ons het altyd in die strate gespeel en sport gedoen – soms natuurlik ʼn bietjie stout,” beskryf Sanchéz haar kinderjare in Spanje. Sy het saam met haar ouers en drie broers gebly en het almal in haar omgewing geken. “Ek en my vriende, ʼn groep waarmee ek steeds ʼn noue verhouding hou, het saam skool toe gestap en altyd in die strate gespeel,” vertel sy.


Sanchéz vertel dat sy altyd haar tyd op skool geniet het en dat sy aktiwiteite soos koor en sport geniet het. “Vir my was skool lekker, ek was kalm en kon daar rus, my enigste bekommernis was om ʼn goeie tyd te hê,” vertel Sanchéz. Sy wou nog altyd ʼn onderwyser word. Sy vertel hoe sy pop gespeel het waar sy die onderwyser was van ʼn klas studente.

“Van die lewe in ʼn dorp waar ek almal geken het, het ek in ʼn groot stad gaan swot waar ek my plek moes begin kry.” Sanchéz het in Zaragoza studeer waarna sy verdere studies in Madrid, Spanje voltooi het en daar begin werk het. “Die loopbaan wat ek gekies het, het ʼn nuwe wêreld vir my oopgemaak,” sê sy. “My kursusse het my deur lees, analise en insig na ander perspektiewe, plekke en tye gevat.”


Sanchéz het in 1989 in Suid-Afrika kom bly. “Ek het op ʼn Suid-Afrikaner verlief geraak, ons dog dit gaan net tydelik wees, maar hier is ek steeds,” onthou Sanchéz. Sy glo dat Helpmekaar vir haar ʼn plek geword waar onderrig nie die belangrikste is nie, maar dat dit ʼn plek is waar almal saam kan kom en geniet.


Sanchéz het definitief ʼn spesiale plek in almal se harte by Helpmekaar Kollege. Van haar vrolike stem op die stoepe en verrykende klasse, het sy die Spaanse kultuur by Helpmekaar versprei en ander geleer om dit ook te geniet. Haar deurlopende leerwyse en konstante ondersteuning is net van haar vele talente wat sy in haar flambojante wyse aan leerders probeer deurgee.

Related Posts

See All

Comentários


bottom of page