top of page
Nina Germishuysen

Botes-tweeling maak geskiedenis



Helpmekaar Kollege se puik matriekuitslae vir 2021 het behoorlik die onderwyswêreld aan die gons gehad. Wat veral die aandag getrek het, is die tweeling, Christiaan Botes en Carla Botes, se uitsonderlike uitslae. Christiaan het die meeste A-simbole in die geskiedenis van die skool ingepalm – ʼn volle veertien! Carla is net ʼn kortkop agter hom met 10 onderskeidings.


Hierdie indrukwekkende prestasie is beslis ook ʼn groot mylpaal vir die skool, aangesien dit die eerste keer is dat ʼn leerder meer as 11 onderskeidings behaal het. Wat is die resep vir hulle sukses? Christiaan en Carla is dit eens – daar is geen kortpaaie nie. Lang ure voor die boeke lewer resultate.


Volgens Christiaan gee die rekordeksamen jou ʼn baie goeie idee van wat om in die eindeksamen te verwag. “Ek voel dit is die beste manier om voor te berei vir die eindeksamen, want dan weet jy reeds wat vir jou werk. Jou punte vir die rekordeksamen gee jou vir ʼn goeie aanduiding van hoe hard jy nog moet werk vir die eindeksamen.”

Carla stem saam: “Ek het die hele jaar geweet ek wil met die eindeksamen onderskeidings behaal en het deur die jaar elke keer bietjie harder gewerk om dit reg te kry as ek dalk in ander toetsreekse en eksamens daarin misluk het.”


Christiaan het intussen verhuis na Stellenbosch, waar hy megatroniese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer en ʼn inwoner van Eendrag-manskoshuis is. Hy hou van programmering, wiskunde en fisika asook die ontwerp van groter meganiese stelsels. Hy is ook mal oor skaak, E-sport, muurbal, ysskaats en rotsklim. Hy weet nie waar hy homself oor 10 jaar sien nie, want die lewe is te onvoorspelbaar. Hy wil wel graag ʼn -meestersgraad in Amerika voltooi!


Carla het ʼn passie vir die skoonheidswêreld en studeer somatologie aan die Isa Carstens-akademie in Pretoria. Sy sien haarself oor 10 jaar met ʼn eie velsorgreeks en haar eie besigheid. Haar salon, hoop sy, sal in ʼn stadium op ʼn tropiese eiland wees.


Die tweeling se raad aan 2022 se matrieks, wat hulle oog op goeie uitslae het, is dat mens reeds van die staanspoor af hard moet werk. Volgens Carla is goeie tydsbestuur ʼn sleutelfaktor. “Ek het nie my buitemuurse aktiwiteite heeltemal afgeskaal nie. Dit is belangrik om te besluit hoeveel energie jy aan wat wil spandeer en om ʼn gebalanseerde lewe te handhaaf.”


Comentarios


bottom of page