top of page
Jessica Goosen

Boekresensie:Volgende in Venter se S-reeks beïndruk


Resensent: Jessica Goosen

Sewe-en-veertig

Outeur: Irma Venter

Gradeuring: 5/5

ISBN: 9780798178242



Sewe-en-veertig is net nog ʼn bevestiging dat Irma Venter as een van die beste misdaadskrywers in Suid-Afrika beskou kan word. Sewe-en-veertig sal enige leser op die punte van hul stoele hou.


Kuberkenner Sarah Fourie ontvang 03:30 een wintersoggend ʼn oproep van die datawetenskaplike, Mosela Mosholi. ʼn Vierde moord op ʼn toeris word binnekort voorspel en Fourie se kuberkennis is moontlik al wat Mosela se ondersoek kan help. Fourie moet van haar verlede met oudspeurder Jaap Reyneke vergeet, haar lewe in Johannesburg agter laat vir Kaapstad en uitvind of Mosela se vermoede werklik gewig dra.



Die manier waarop Venter verhoudings in die roman uitbeeld, vriendskaplik en romanties, is rou en realisties. Sy skep genoeg emosie in die leser om belangstelling te wek in die karakters en hulle verhoudings met mekaar, sonder om hul interaksies met mekaar af te water met sentimentaliteit. Jaap en Sarah se onwaarskynlike vriendskap word al in Venter se vorige boeke van die S-reeks verken, en aanhangers van die dinamiese paartjie sal beslis in Sewe-en-veertig bederf word. Venter se uitstekende kennis van tegnologie gee die roman ʼn kontemporêre gevoel.


As jy opsoek is na ʼn roman waar Gerhard Louw se Baby-tjoklits as agtergrondmusiek in jou kop dreun, is Venter se Sewe-en-Veertig nie die boek vir jou nie.

Die verhaal speel in ʼn koue en droewige Kaapstad af en teen dié ruimte breek die spanningslyn nooit nie. Venter se S-reeks is tog sinoniem met spanning. Die gevare waarin die karakters hulself bevind, is nie oomblikke wat Venter bloot uit haar duim uit suig nie, maar eerder situasies wat in die samelewing op ʼn daaglikse basis gebeur. Aanhangers van Venter se skryfwerk sal weet dat haar boeke altyd sterk vroulike karakters bevat met ʼn volledige agtergrond van die karakter en Sewe-en veertig is geen uitsondering nie. Sewe-en-veertig skakel uitstekend saam by die S-reeks en is ʼn verhaal wat beslis nooit die leser sal verveel nie.



Related Posts

See All

Comments


bottom of page