top of page
Elzette Labuschagne

Atlete mik hoog in buitegewone sportsoorte





Al ooit van 'n sport soos Laserpistoolhardloop gehoor? Die Flitse het by drie Helpies aangeklop wat in minder algemene sportsoorte soos dié presteer.


Merke, gereed, gaan!

Toe Taylor Kroef (gr.10) in graad 10 met laserpistoolhardloop (laser run) begin het, was hy gefassineer deur die hardloop-en-skietaspek van die sport. In sy ouderdomsgroep skiet hy met 'n laserpistool na 'n teiken wat 10m ver is. Taylor het net 50 sekondes om die middelste punt vyf keer raak te skiet. Direk nadat hy geskiet het, moet hy 'n 600m-rondte hardloop. Dié patroon herhaal vier keer.

 

Die grootste prestasie in laserpistoolhardloop is om 'n wêreldkampioen te wees. Taylor het verlede jaar goud by die Suid-Afrikaanse kampioenskapsbyeenkoms behaal. Hy was ook by die wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Bath, Engeland, waar hy 'n elfde plek in die finale rondte behaal het en 'n derde plek in die gemengde aflos. "Ek hou van die gevoel van adrenalien wat voor 'n kompetisie deur my lyf stroom", stel hy.

 

Aly Aboelfetouh van Egipte is 'n atleet na wie Taylor opkyk. Hy is tans eerste op die wêreldranglys vir onder-17 seuns. "Aly is gedissiplineerd en gefokus op die baan en ek bewonder sy presiesheid en akkuraatheid wanneer hy skiet," sê Taylor.

 

Met 'n leuse soos "oefening maak perfeksie" mag Taylor dalk net in Aly se voetspore volg.

 

In die kol

Jayden Smith (gr.8) se pa het hom geïnspireer om veerpyltjies as 'n sport te beoefen, aangesien hy hom geleer het van die sport en saam hom by die huis gespeel het.

 

Veerpyltjies is 'n binnenshuise telkenspeletjie wat gespeel word deur veerpyltjies op 'n ronde bord met genommerde spasies te gooi. Jy kan individueel of in pare deelneem.

 

Jayden het Gauteng vanjaar by die nasionale

veerpyltjie-toernooi verteenwoordig. Volgens hom weet 'n goeie veerpyltjiespeler hoe om te fokus en om druk te hanteer.

 

"My gunstelingdeel van die sport is om vriende te maak en nuwe mense te ontmoet sê Jayden.

 

En garde!

Keagan van Nieuwenhuizen (gr.9) se belangstelling in skermsport (fencing) het begin nadat hy 'n episode van die TV-reeks Modem Family gekyk het waarin een van die karakters besluit om hierdie sport te probeer.

 

In skermsport probeer twee mededingers om punte aan te teken deur hul teenstaander aan te raak met 'n wapen wat soos 'n dun, buigbare swaard lyk. Volgens Keagan is die doel van die sport om jou teenstaander uit te oorlê met 'n kombinasie van spoed, tegniek en taktiese denke.

 

Keagan is pligsgetrou en vasberade en voel dat oefening verskeie kere per week noodsaaklik is om doeltreffend vir kompetisies voor te berei. Hy sê die volgende oor oefening: "Dit is meer as net fisieke kondisionering. Dit is verfyning van tegnieke en strategieë."

 

Sedert Keagan in 2020 met skermsport begin het, het hy aan verskeie streeks- en nasionale kompetisies deelgeneem. Hy was onlangs ook by die Afrikakampioenskapsbyeenkoms. Keagan neem gewoonlik aan die o.17- en junior- (o.20)afdeling deel sodat hy soveel ervaring moontlik kan opdoen teen meer ervare spelers.

 

Hy gee die volgende raad aan enigiemand wat wil skerm: "Leer uit jou én jou teenstaanders se foute, maar bo alles geniet dit net."

 

Related Posts

See All

Comentarios


bottom of page